Sake24 News Article

We would like to thank Tharien Hattingh for the wonderful interview and article in the Sake Nuus on the 24th August 2015.

Sake24 News Article

Sake24 News Article

Gigi, oftewel Perle van Schalkwyk, is die eienaar van The Lollipop Lounge in Randburg, ’n erotiese dansklub wat sy al 11 jaar besit. Gigi was ’n paar jaar gelede ook die wenner van Celebrity Survivor South Africa op TV. Sy gesels met Tharien Hattingh oor haar reis as entrepreneur.

Waaruit bestaan The Lollipop Lounge?

Die klub bestaan uit ’n kroeg, restaurant, dans- en vermaakplek.

Hoe het jy die eienaar van ’n erotiese dansklub geword?

Ek het drama studeer en daarna was ek by verskeie verhoogproduksies betrokke. Ek was nog altyd mal oor dans en toe die geleentheid oor my pad kom om voor gehore te dans, het ek dit aangegryp.

Ek het later met erotiese danse begin en het jare as erotiese danser in klubs in Johannesburg gewerk.

Sowat 11 jaar gelede het ek en my vennoot, Mike, The Lollipop Lounge oopgemaak.

Hoe het jy die aanvangskapitaal van die klub voorsien?

Ek het vandat ek begin werk het, spaarsaam gelewe. Ek moes my eerste motor en huis met my eie geld koop en dus het ek nog altyd geweet waar my geld vandaan kom.

Ons het die klub op dieselfde wyse begin. Omdat ek ook nie elke maand ’n vaste salaris verdien het nie, het ek geleer om met my geld te werk en om te spaar.

Wie is jou mentor in die bestuur en groei van die klub?

Ek het vir ’n paar jaar by The Titty Twister in Rivonia gewerk, onder die bekwame bestuur en leiding van die klub­eienaar, Andrew Phillips. Hy weet wat hy doen. Andrew weet hoe hierdie bedryf werk en hy is ’n uitstekende sakeman.

Ek het 30 tot 40 meisies wat op ’n aand in my klub dans, terwyl Andrew se klub plek vir ­sowat 80 meisies het.

Gigi, oftewel Perle van Schalkwyk, is die eienaar van The Lollipop Lounge in Randburg. Foto: Derek van der Merwe

Die klub se danseresse is sekerlik jou grootste bate. Hoe bestuur jy hierdie bate?

My meisies is vir my baie belangrik. Ek bied hulle goeie opleiding en ’n veilige werkomgewing. Ek kies ook net Suid-Afrikaanse danseresse.

Om as erotiese danseres te werk, bied baie meisies die geleentheid om vir hulself ’n beter lewe te skep.

Van my meisies het bedags ’n meer formele werk en werk snags in die klub en ondersteun hul gesinne so.

Hoe dra jy by om entrepreneurskap by die meisies te ontwikkel?

Ek moedig hulle aan om te spaar en doelwitte vir hulself te stel. Hulle weet ook waarvandaan ek kom en wat ek bereik het, deur harde werk en om te begroot.

Hoe beïnvloed die beweging in die ekonomie jou onderneming?

Om na ’n erotiese dansklub te gaan is ’n luukse item in enigeen se begroting. Ons voel dit dus gou as die ekonomie druk.

Dit is belangrik dat ons deurlopend kwaliteitvermaak aan al ons kliënte bied. Ek doen moeite om die gehalte te monitor en deurlopend opleiding te bied.

Hoe verseker jy dat die vermaak relevant bly vir jou teikenmark?

Ek reis gereeld na ander lande, soos Nederland, Thailand en die VSA, woon vertonings daar by en besoek erotiese dansklubs. Só kry ek ’n goeie idee van hoe ons vergelyk met die res van die wêreld wat gehalte en verskeidenheid betref.

Ons Suid-Afrikaanse erotiese vermaak staan nie terug vir die res van die wêreld nie.

Watter funksies vervul jy in die onderneming?

Ek is oorhoofs betrokke by omtrent alle fasette van die onderneming. Dit is belangrik om altyd my vinger op die pols te hou.

’n Klub werk net soos enige ander onderneming. Of jy nou bakstene vervaardig of ’n erotiese dansklub het, die sakebeginsels bly dieselfde.

Ek het ’n goeie span wat verseker dat die onderneming soos ’n goed geoliede masjien werk.

Het jy dit al oorweeg om nog klubs oop te maak?

Ek het al verskeie aanbiedings en voorstelle oor ’n franchise-konsep ontvang. Ek glo nie ek sal ooit ’n tweede klub oopmaak nie. Dit is vir my belangrik om kwaliteitvermaak aan al my ­kliënte te bied en daarom wil ek net op een klub fokus en die gehalte hoog hou. My liefde vir vermaak en dans is, en sal altyd, my grootste prioriteit bly.

Hoe het jou titel as eerste wenner van Celebrity Survivor jou onderneming beïnvloed?

Dit het definitief ’n positiewe invloed op baie Suid-Afrikaners se siening van erotiese danse verander. Dit het vir my ’n platform geskep waar ek oor my werk kon praat en mense se sienings kon verander.

Wat is jou toekomsplanne?

Ek wil by dans en vermaak betrokke wees tot ek die dag omkap. Ek bring ook my eie stookhuis naby Stanford in die Overberg op die been. Dit is vir my ’n wonderlike, nuwe uitdaging.

Download the full article (2MB PDF).

Read the article on Netwerk24.

Leave a Reply

Search this site

  • SA Corona Virus Online Resource